ongetittelde sonnet

jou woorde is wit duiwe teen die kranse

en die eens groen nou bar hange

waar die eie-eggo-vloek wilde danse

gedryf uittrap deur eeue-oue verlange



na die sagte kabbeling oor banke sand

en moeë lope waar die lelie barende

aarde in rachmaninov stilte brand

van dors, van soek met die vraende



oë in die nag van 'n slaapwarm kind

in 'n wêreld tussen vryheid en vrees

verskrik deur wisselende woedende wind

gedoem om gestalteloos swerwer te wees



gevleuelde woorde van hoop teen hoop

kom sluit weer kleurryke vergesigte oop

Author's Notes/Comments: 

Vir Johanni Loubser:  Dit is en bly 'n voorreg om jou woorde te lees.  Hoe sê 'n mens dankie vir die voorreg om iets van iemand anders se siel - in alledaagse klinkers en konsonante vasgevang - te mag indrink soos magiese water uit die Blyderivier?

View roosblaar_drinkwater's Full Portfolio