Sonster

(vooruitskouend vir 4 Desember 2002)



o Sonster



jy skryf my naam tweelettergrepig

geneties en uitstraalpuntig

dromende son van bleekgeel nag

stralende ster van grysblou dag



nooi nou die Maan tot spel!



emosies berym die uni-verse

Vlam innig maansinnig;

skakerings van digitale dae

prismeer waansinnig

die atomiese vertoning

- kleurvol herlei - gedistilleer

deur lens en moeselien

van die bysiende oog



dog slegs die melkwit Maan loer

koeltjies na die arrogante gloed

sonder obstruksie of beskerming

met kuise staar en sikliese permissie

sonder die aanspreek van die bloed ...



o Sonster - vurige Geliefde

kom sirkel in my kolk

van drome en van vergesigte

jou stergedig so dubbelsigtig driftig

word suiwer deur die Siel vertolk



Myra Lochner

Author's Notes/Comments: 

Sonsverduistering: die aardling gebruik die maan (intellek) as oogklap om die son (passie) te peil ...

View myrataal's Full Portfolio
Nicolette Van der Walt's picture

Sien jy het ook een geskryf vir die sonsverduistering...sien my poging: "Met nuwemaan". Ek hou hiervan!