WELKOM LENTE

vir jou skryf ek woorde, september

vir jou wil my vingers net sing

vir jou met jou bloeiselbeloftes

met jou waarword en weerbegin



vir jou met jou knoppiesklein kleding

aan winter se kaalbas-verlang

vir jou met jou sierlike strikke

om die blom van my hart vas te vang



vir jou word ek bytjie, september

wil ek nektar kom teug uit 'n kelk

wil ek stuifmeel versprei oor die velde

wil ek keer dat die Lewe verwelk



laat my toe om kaalvoet te huppel

oor die groen van jou kieliejong kweek

en loop ou gedagtes dalk kruppel

maak my weerloos en effentjies week



o september ek wil jou nie groet nie

laat my reis van begin tot begin

ek wil nie in winter vertoef nie:

ek's september - en lente - s'n



vir jou skryf ek woorde, september

vir jou wil my vingers net sing

vir jou met jou bloeiselbeloftes

met jou waarword en weerbegin ... en weerbegin

Author's Notes/Comments: 

Vir Jaco Ackermann ... 'n jong digter

View myrataal's Full Portfolio
roosblaar_drinkwater's picture

Hi Myra, dit voel soos gister wat ek nog saam met jou koffie gedrink het en betower is deur jou lentebries aura. Sal graag wil hoor hoe dit gaan! Dankie vir jou wonderlike bydrae tot Afrikaans literatuur. Groete, Jaco Ackermann

. Donkerman's picture

Oeg, Myra - dis baaaaie mooi! Groetnis Donkerman