TWEE BEELDE

(in die verbygaan)



dit was 'n doodgewone dag

die pad het oorbekend gekronkel

deur my drome  verlange het die Poort

aanloklik vir my oop laat gaan:



ek kon Ma-Ada daar sien staan

in Ruiterbosch se oorryp boord

haar hande voel-voel na 'n pruim

vir my ... haar swygsame klein spruit



sy het die dofrooi vruggie na my uitgehou

maar voordat ek kon vat vervloei sy

in 'n miswolk teen die motorruit ...



dan sien ek dit!



'n afgetrokke pa   haastig aan't stap

'n uitgeteerde ma met baba op die heup

wat hink om by te hou ...



die tenger kind

wat op 'n drafstap in wil haal



maar skielik tou-

opgooi en op 'n hopie

neersak



om te huil ...



die reis het skielik stroef

geword:



ek bly steeds kniel

daar langs die pad -

my soetrooi pruim te ruil

vir glimlaggies deur trane



maar die vergete kindjie

wil nie vat






Author's Notes/Comments: 

By 'n plakkerskamp verby ...

View myrataal's Full Portfolio
tags: