MY MIDDELEEUSE LENTEHUIS

O Lente, bou vir my 'n middeleeuse huis

een ruwe boom ommuur met wildepruim

dek dan 'n dak wat lieflik ruis

van blare en van tortelduif



O Lente, vleg vir my 'n raam

van gipskruid, rose en jasmyn

en voer my sielsdronk met jou saam

na waarword-vistas sonder skyn



Timmer vir my 'n breë stoel

'n tafel met 'n growwe grein

deel ruim van jou ambrosia

en giet vir my geel heuningwyn



Skik teer vir my 'n hoë bed

met narsings en met pers vilet

'n kopstuk van laventelbos

vir droomloos slaap  vir Sielekos



O Lente, stuur vir my 'n stroom

na hierdie middeleeuse boom

dat ek Winter se blink forel

meer van m‎ gees se glip vertel



Van hoe ek oor dimensies heen

stroomop na hierdie tyd vergly

na vrugbaarheid en leef en seën

O Lente, ek hoor: jy roep vir my!



O Lente, bou vir my 'n middeleeuse huis

een ruwe boom ommuur met wildepruim

laat kosmosse die pad aanwys

laat my hart sing: "ek's tuis, ek's tuis!"

Author's Notes/Comments: 

Ek is Ewige Lente se Kind.

View myrataal's Full Portfolio
tags: